Laaste glasiale tyd

’n Kunstenaarsvoorstelling van die laaste glasiale tyd op sy maksimum.[1]
Vir ’n algemene beskrywing van ystydperke, sien Ystydperk.

Die laaste glasiale tyd of laaste ystyd was die mees onlangse glasiale periode in die huidige ystydperk wat voorgekom het in die laaste jare van die Pleistoseen, van sowat 110 000 tot 12 000 jaar gelede.[2] Dit staan in die volksmond bekend as "die Ystydperk", maar wetenskaplikes beskou dit as slegs die laaste glasiale (of koue) periode in ’n veel langer ystydperk wat meer as 2 miljoen jaar gelede begin het en waarin verskeie glasiale tye reeds voorgekom het. Dié word afgewissel deur warmer tydperke bekend as interglasiale tye, soos die een waarin die aarde hom nou bevind.

Gedurende die laaste glasiale tyd was daar verskeie veranderings in die toe- en afname van ys op aarde. Die koudste deel was sowat 22 000 jaar gelede. Plaaslike verskille in die toe- en afname van ys maak dit moeilik om besonderhede van een kontinent met dié van ’n ander te vergelyk (sien die grafiek van yskerndata hier onder).

Uit die oogpunt van menslike argeologie val die laaste glasiale tyd in die Paleolitikum- en die Mesolitikum-tydperk. Toe dit begin het, was Homo sapiens beperk tot Afrika en het hulle gereedskap gebruik wat ooreengestem het met dié van die Neanderdallers in Europa en die Levant en van Homo erectus in Asië. Aan die einde daarvan het Homo sapiens na Europa, Asië en Australië versprei. Die afname van ysplate het groepe Asiate in staat gestel om na die Amerikas te migreer en dit te bevolk.

  1. Crowley, Thomas J. (1995). "Ice age terrestrial carbon changes revisited". Global Biogeochemical Cycles. 9 (3): 377–389. doi:10.1029/95GB01107. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 November 2012. Besoek op 30 Mei 2015.
  2. Clayton, Lee; Attig, John W.; Mickelson, David M.; Johnson, Mark D.; Syverson, Kent M. "Glaciation of Wisconsin" (PDF). Dept. Geology, University of Wisconsin.{{cite web}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search